Agri SA vra hulp vir boere wat brandskade ly
Meer as 400 000 ha is reeds in die huidige brandseisoen in die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap verwoes. Agri SA het Suid-Afrikaners gevra om tot sy hulpfonds by te dra om boere wat erge skade weens veldbrande gely het, by te staan. "Ons is erg bekommerd oor die verwoestende uitwerking van die brande in die drie provinsies," sê Christo van der Rheede, Agri SA se hoof. Nie net het boere se weiding afgebrand nie, maar heelwat vee en wild het doodgebrand of moes van kant gemaak word om hul lyding te beëindig.
Van der Rheede sê 'n dringende poging is nodig om boere met veevoer te help. Die skade aan grondgesondheid, die ontwrigting van ekologiese stelsels en die verandering van natuurlike brandpatrone kan langdurige gevolge hê. Die herstel van die natuur ná brande is in 'n groot mate van voldoende reënval afhanklik, sê hy. "Genoeg reën is van kardinale belang vir die herlewing van plantegroei, die herstel van grondvrugbaarheid en die aanvulling van waterbronne."