Agri SA vra hulp vir boere wat brandskade ly
Meer as 400 000 ha is reeds in die huidige brandseisoen in die Vrystaat, Noordwes en Noord-Kaap verwoes. Agri SA het Suid-Afrikaners gevra om tot sy hulpfonds by te dra om boere wat erge skade weens veldbrande gely het, by te staan. "Ons is erg bekommerd oor die verwoestende uitwerking van die brande in die drie provinsies," sê Christo van der Rheede, Agri SA se hoof.
Nie net het boere se weiding afgebrand nie, maar heelwat vee en wild het doodgebrand of moes van kant gemaak word om hul lyding te beëindig. Van der Rheede sê 'n dringende poging is nodig om boere met veevoer te help. Die skade aan grondgesondheid, die ontwrigting van ekologiese stelsels en die verandering van natuurlike brandpatrone kan langdurige gevolge hê. Die herstel van die natuur ná brande is in 'n groot mate van voldoende reënval afhanklik, sê hy. "Genoeg reën is van kardinale belang vir die herlewing van plantegroei, die herstel van grondvrugbaarheid en die aanvulling van waterbronne."
Agri SA vra publiek se hulp te midde van brande
Groot dankbaarheid heers oor voerskenkings aan boere in die Vrystaat en Noordwes ná ernstige brande, maar die publiek se hulp word gevra om boere by te staan met verwoestende brande wat steeds voorkom.
Altesaam 68 ton voer is die afgelope week deur Nutrifeeds in Noordwes en die Vrystaat afgelaai by gemeenskappe wat deur erge veldbrande geraak is. Santa Ferreira, nasionale bemarkingsbestuurder, sê die maatskappy het 34 ton voer aan Vrystaat Landbou beskikbaar gemaak. Dié organisasie het die voer by Brandfort versprei.
Die ander 34 ton voer is aan Agri Noordwes beskikbaar gemaak, wat die voer in die distrikte Christiana, Wolmaransstad en Hartebeesfontein versprei het.